In ‘n groter groep mense is daar altyd die één of twéé wat sal uitstaan. Dié een wat bietjie weird is; die een wat net nie so lekker wil inpas nie. Mense praat oor hom of lag oor hom, maar heelwaarskynlik nie die dinge wat hy sou wou hoor nie. Dan is daar die ander een. Mense kyk altyd vir hom, volg hom, praat meestal goeie dinge oor hom. En hoe meer mense van hom hou en oor hom praat hoe gewilder raak hy. Onbewustelik maak hy van homself ‘n tipe mode-ikoon.
Hierdie ervaring het ek gemaak. Nog altyd geniet ek en my span dit om pragtige meubels en dekor te vervaardig. Nuwe idees kom op – nuwe kleure. Ek eksperimenteer maar. Nege-en-negentig persent van die artikels word gekoop of begeer. Ja, ek weet, want mense deel dit met my.
En dan, op ‘n doodgewone dag pos ek op Facebook weer ‘n wasgoedkrat. Minder kleur, ‘n ander kleur, meer natuurlik – gemaak van vrugte kratte, herwinde hout. Dit tower onmiddellik ‘n golf van belangstelling deur die sosiale media. Elke paar minute ‘n kliek, ‘n like, ‘n kommentaar en dan volg die baie bestellings.
Kan julle glo? 66150 keer is na hierdie krat gekyk. Net oor hierdie meubelstuk het my Facebook-blad met 680 “likes” gestyg. My populêre wasgoedkrat – ek kan jou sommer druk uit pure geluk!